Illustrasie van www.burningwell.org |
'n Duif wat al skoon swak voel van die dors, vlieg verby ‘n uitbeelding van ‘n beker water wat teen 'n muur geverf is. Hy is so bly om uiteindelik by water uit te kom, dat hy nie vir een oomblik dink dis bloot maar ‘n prentjie nie en pyl reg op die waterbeker af. Hy vlieg homself des disnis teen sy beker, breek een van sy vlerke, slaat neer grond toe en word kort voor lank deur ‘n kat opgemerk wat hom vang en opvreet.
‘n Insident wat maar net weer bewys dat ‘n mens se geesdrif en ywer nie jou gesonde oordeel moet aantas nie.
***
Nader aan die oorspronklike Grieks klink die fabel effe anders teen die einde as die duif self aan die woord kom wanneer hy sy laaste asem uitblaas. Dit is getrou aan die Esopiese tradisie – waar daar 'n sterfte is het die sterwende dikwels die laaste sê:
'n Duif wat vreeslik dors geword het, het van plek tot plek gevlieg op soek na water om te drink. Sy sien toe 'n waterbeker wat teen 'n muur geverf is en onder die indruk dat dit regtig water is, vlieg sy sonder om twee keer te dink reg op die muur af om haar dors te les. Toe sy in die muur vas vlieg bring sy haar lewe tot 'n skielike einde. Terwyl sy haar laaste asemteug gee, sê sy vir haarself: “Wat 'n ellendige en ongelukkige skepsel is ek nie! Ek het nie vir een oomblik kon vermoed dat ‘n soeke na iets om te drink my ondergang kan beteken nie.
Die fabel wys dat versigtigheid strate beter is as roekelose ondeurdagte haas.
Ons sê in Afrikaans dat 'n haastige hond sy mond verbrand.