Saturday 7 May 2011

Die Bokwagter en die Bok

Illustrasie deur Laura Gibbs op internet beskikbaar gemaak


Die bokwagter het die hele agtermiddag al na een van sy bokke wat afgedwaal het gesoek. Hy spoor die bok uiteindelik, net-net buite sy bereik, op ‘n rotslysie op, maar dit maak nie saak hoe hy ook al roep en fluit en skree nie, die bok ignoreer hom en vreet rustig voort. Uit pure radeloosheid tel hy toe maar ‘n klip op en gooi dit na die bok – dis raak, maar ongelukkig breek dit die bok se horing en die wagtertjie smeek by hom om tog nie vir sy baas daarvan te vertel nie. “O, jou lawwe ventjie,” antwoord die Bok, “selfs al bly ek ook hoe stil hieroor, die stukkende horing gaan mos dadelik sonder dat hy kan praat, al die praatwerk vanself doen!”

Ons moet nie soos die bokwagter wees wat dinge wil wegsteek wat nie weggesteek kan word nie.

***
Hierdie is 'n vertaling van 'n Victoriaanse oorvertel van die storie. Wat volg is 'n vertaling van die klassieke teks wat vandag tot ons beskikking is. Dit is ongeveer 450 nC deur Aphthonius aangeteken:
'n Kort storie omtrent 'n bok wat ons wil aanspoor om nie iets wat vir almal opsigtelik en duidelik is, weg te wil steek nie.
Die bokwagter probeer toe om 'n bok wat van die trop afgedwaal het weer terug te kry. 'n Gefluit en geskree kon niks uitrig nie, toe klim hy onder die bok in met 'n klippe en stene – waarvan een toe nou ook een van die bok se horings afbreek. Die bokwagter smeek toe by die bok om tog nie die boer te vertel wat gebeur het nie, maar die bok antwoord: “Jy is lag-lag seker die onnoselste bokwagter in die ganske wêreld – ek hoef mos nie daarvan te vertel nie; die stukkende horing gaan al die praatwerk mos sommer namens homself doen – selfs al bly ek ook hóé stil!”
Ook net die grootste van dwase wat iets sal probeer wegsteek terwyl dit oop en bloot is vir almal om te sien.
***
Ek kon geen illustrasie van hierdie fabel opspoor nie. Ek het die een hier bo gebruik, bloot omdat dit aan 'n trop skape herinner.