‘n Leeu en ‘n luiperd wat onbewus van mekaar op dieselfde bok jag gemaak het, takel mekaar oor beheer van die karkas. Na die twee, elkeen klaar uitgeput van die jag maak op die bok, mekaar sommer lelik met die klou en die kaak bygekom het, slaan hulle uitgeput soos dooie osse net daar langs die bok in die veld neer. Hiëna wat hulle die hele oggend al van ‘n afstand hoopvol op ‘n ietsie te aas dophou, kom versigtig skuifel-skuifel nader. Groot is haar verbasing natuurlik toe sy die twee jagters pens en pootjies uitgestrek op die grond met die bok nog onaangeraak tussen hulle aantref. Sy hardloop tussen die twee uitasems in, gryp die bok en slaan voet in die wind onder hulle oë uit. Maar hulle sien haar, altwee, dis net dat hulle te moeg is om iets daaraan te doen. Dadelik is hul vete ook vergete, want leeu trek los: “Arme ek en jy, dat ons ons amper keduks moet werk agter die bok aan, en dit net sodat ou hiëna daarmee gedien kan word.”
Dit is nou maar eenmaal so dat die een man al die werk doen, maar ‘n ander met die wins wegkom.
Nee, die illustrasies is nie verkeerd gekies nie. Toe ek hierdie fabel oorvertel het, het ek die gebeure Afrika toe verskuif. Die gedagte van 'n beer en 'n leeu saam op dieselfde jagveld, klink vir al te vreemd. Die hiëna pas op sy beurt die rol van die jakkals so goed, dat 'n boorling van Afrika sou voel die rol is vir hiëna geskep.
Die boodskap is natuurlik universeel. Ons spreekwoord “twee honde veg om 'n been, maar die derde hardloop daarmee heen,” verwoord die hoofgedagte natuurlik net so goed.
Baie nader aan die oorspronklike Griekse teks, klink die storie effe anders:
'n Leeu en 'n beer was aan die baklei om besit van platgetrekte boklammetjie. Die woeste geveg na die jag en jaag had beide oues egter uitgeput en mooi net toe die een handdoek ingooi, hys die ander die wit vlag; hulle kom ooreen om eerder asem te skep. Tussen dit alles deur was daar hierdie honger jakkals wat met honger oë al om hulle gesirkel het. Toe dié sien dat die twee jagters uitgeput met die bok tussen hulle neergeval het, storm sy in, gryp die karkas en slaan daarmee voet in die wind. Die leeu en die beer kon hulself nie eers so ver kry om op te staan nie; toe sit hulle maar net daar en hou die jakkals dop terwyl hy met sy buit verdwyn. “Watter sotte was ons nie,” kom dit van die twee, “ons gaan deur al die moeite en dit ter wille van die jakkals.”
Hierdie fabel wys maar net weer dat party mense al die werk doen, terwyl ander die voordeel daaruit trek.
Die illustrasies hier gebruik is almal deur Laura Gibbs beskikbaar gemaak.