Wednesday, 18 May 2011

Die Muise en die Dwergmuishonde


Die Muise en die Dwergmuishonde was jare reeds in ‘n ononderbroke baie bloedige oorlog gewikkel. Na elke veldslag was dit die Dwergmuishonde wat as oorwinnaars uit die stryd getree het. Die muise het hul herhaalde nederlae toegeskryf aan die feit dat hul leermag geen leiers of iets soos offisiere gehad het nie – niks anders as ‘n spul ongedissiplineerde voetsoldate een en elkeen van hulle nie. Gevolglik is ‘n klompie muise, party op grond van herkoms en familieagtergrond, ander op grond van militêre dapperheid aan die dag gelê, as leiers gekies om die strydmag wat hulle eers in pelotons, kompanies en battaljons ingedeel het, op die slagveld aan te voer. Met die ordereëlings, struktuur en algemene dissipline eers in plek, is oorlog, met ‘n groot fanfare aangekondig, opnuut teen die Dwergmuishonde verklaar. Die nuut verkose generaals het, ten einde meer sigbaar onder hul eie manskappe te wees, indrukwekkende kentekens van strooi om hul nekke gebind. Die groot slag het skaars afgekop of die Muise word totaal oorweldig en moet in aller yl na hul gate haas. Die generaals, met hul indrukwekkende halssnoere van strooi, het elkeen voor die voet gesukkel om by hul gate in te skarrel, is deur die Dwergmuishonde gevange geneem, en weldra opgevreet.

Dit herinner ons aan die uitdrukking “hoë bome vang die meeste wind”; hoe meer die eer wat jou toekom, hoe groter die gevaar waaraan jy uitgelewer is.







Ek het onderneem om die fabels van die klassieke Grieke en Romeine te vertaal. Bg. is 'n vertaling van 'n Britse oorvertelling uit die 1800’s.
Laat ek daarom my woord hou.
Syntipas was 'n Indiese filosoof en skrywer wat ongeweer 100 vC baie bekend was. 62 fabels, vermoedelik uit Siries in Grieks vertaal, word aan hom toegeskryf. Sy vertelling van die fabel, met gans 'n ander vreemde slotsom, klink so:

Oorlog het uitgebreek tussen die muise en die muishonde. Die muise was natuurlik nie so sterk soos die muishonde nie. Toe hulle eers besef dat hul volslae swakheid en gepaardgaande lafhartigheid tot hul nadeel strek, verkies hulle 'n spul despote as generaals om hulle in die stryd te lei. Die bende outokrate wou meer opvallend en opsigtelik as die ander muissoldate wees; so toe maak hulle horings aan hul koppe vas. Toe die muishonde aanval, sit hulle die spul muise lelik ore aan. Die opmerklike aanvoerders van die muise, al was hulle met die terugval die eerstes by die gate, kon nie by die skuiling ingaan nie – die lompe horings aan hul koppe het hul belemmer. Die muishonde het elke generaal krygsgevange geneem en ter dood veroordeel.

Hierdie fabel wys dat aanvoerders wat aanmoediging aan hul soldate bied sonder om goddelike bystand vir die komende veldslag af te bid, reguit op 'n groot ramp afstuur.

Die illustrasies hier gebruik is deur Laura Gibbs op Flickr beskikbaar gestel.