Monday, 2 May 2011

Die esel en sy skaduwee

Illustrasie deur Laura Gibbs op Flickr toeganklik gemaak.

‘n Reisiger huur die dienste van ‘n esel en sy aandrywer om hom by ‘n ver bestemming te kry. Onder ‘n skroeiende son op die warmste van ‘n baie warm dag roep die reisiger halt en maak homself tuis in die enigste skaduwee wat daar is – die bietjie skadu wat die esel en sy vrag kan bied. Oor hierdie skadu skaars genoeg vir een persoon was en sowel die reisiger as die aandrywer daarop aanspraak gemaak het, het daar spoedig ‘n hewige rusie oor wie nou gebruikreg van die skadu het, tussen die twee ontstaan. Die reisiger is van mening dat hy vir die dienste van die esel betaal en dat die gebruik van sy skaduwee by die diens ingesluit is. Die eienaar redeneer weer hy het die donkie te huur aangebied, maar beslis nie sy skaduwee nie. Dis ook nie lank nie of die twee verruil hul tonge en woorde vir hul vuiste en houe – hulle klim lelik onder mekaar in. Dis ook net mooi toe hulle in die stof begin rol dat die esel daarvan ook net mooi genoeg had en die verte in weg gallop.

Ons moet daarteen waak dat ons nie die kern van die saak prysgee in ons gestry oor skadu’s nie.


Hierdie fabel, afgerond aangebied soos hier, is nie 'n klassieke fabel nie. Dis wel 'n fabel binne 'n klassieke fabel wat 'n heel ander boodskap en strekking het.

Hulle sê dat Demosthenes tydens 'n groot samekoms in Athene nie die geleentheid gegun is om sy toespraak te lewer nie Hy kry egter die gehoor se aandag met die boodskap dat hy slegs 'n paar woorde wou spreek. Toe die skare stil geword het, begin Demosthenes sy vertelling:  “Dit was hoogsomer en 'n jong man het die dienste van 'n donkie gehuur om hom van Athene na Megara te neem. Op die middaguur, die hitte van die dag toe die son op sy felste skyn, wou sowel die jong man as die donkie se aandrywer hulself in die skadu van die donkie tuismaak. Uit die woordewisseling wat ontstaan het, het 'n gestamp en stoei gevloei, en kort voor lank toe baklei hulle vir 'n plekkie in die skaduwee. Die donkie se eienaar hou vol dat die man die donkie gehuur het, maar nie sy skaduwee nie; die jong man is egter van mening dat hy die donkie en alle regte daaruit voortspruitend gehuur het.” En toe hy tot hier gekom het met sy storie, het Demosthenes sy rug op die gehoor gekeer en weggestap. Hierop roep die skare toe uit dat hy moet stop en vra of hy dan nie lus het om sy storie klaar te vertel nie. “Inderdaad,” kom dit van Demosthenes, “maar julle wil van die donkie se skaduwee hoor, terwyl julle weier om aandag te gee as iemand oor belangrike sake met julle wil praat.”

Die klassieke Grieke het dan ook na aanleiding van hierdie vertelling die uitdrukking “die donkie se skaduwee” gehad om na iets wat weinig of geen belang was te verwys.