Thursday 5 May 2011

Die Denneboom en die Braambos

Deur Laura Gibbs op Flickr beskikbaar gestel


‘n Denneboom merk uit die hoogte teenoor die Braambos op:  “Jy is darem maar regtig ‘n nuttelose bos; ek, aan die ander kant, word nuttig aangewend in byvoorbeeld die dakke van huise, die meubels in daardie huise.” “Jou stomme boom,” antwoord die Braambos, “laat ek jou herinner aan die sae en byle wat geslyp en gereed staan om jou af te maai – dit sal jou rede genoeg gee om te hoop dat jy eerder as ‘n braambos, en nie ‘n denneboom nie, opgegroei het.”

Eerder gebrek, sonder enige kommer en sorge, as rykdom, maar met ‘n oorvloed daaraan.

***

Hierdie was 'n vertaling van 'n Victoriaanse vewerking van die fabel. Babrius se weergawe, die oudste aantekening wat ons van die fabel het, klink in Afrikaans eerder soos volg:

Die den en die braambos is aan’t stry met mekaar. Die den besing haar lof uit die hoogte: “Ek is nie net pragtig nie, maar pragtig lank en slank. Ek groei kiertsregop en die wolke noem my vriendin. Ek verskaf die stadsaal sy dak, die skip sy kiel. Hoe kan jy dit oorweeg, stomme doringbossie wat jy is, om jouself met my te wil vergelyk?” Die braam het ‘n antwoord gereed en sê: “Onthou net die byle wat aldag en heeldag aan jou kap. Dan sal jy verstaan dat dit beter is om ‘n braambos te wees.”
‘n Vername man het inderdaad meer roem en glorie as die gepeupel, maar hy word ook aan meer en groter gevare blootgestel.