Omdat dit meer as 2000 jaar later is, is die volgende fabel moeilik om in ons huidige tyd te vertaal:
'n Alleenloperskaap sien 'n wolf raak en vlug na die skaapkraal wat per toeval oopgelos is omdat 'n offerlam in gereedheid gebring is met die oog op die vakansiedag. Die wolf wou dit nie waag tot binne die kraal nie, maar het van buite probeer om die skaap se vertroue te wen. “Sien jy nie die bloedbevlekte altaar daar oorkant nie,” kom dit van die wolf. “Kom uit daar, nou! Netnou gryp hulle jou en offer jou kort voor lank ook.” “Wees gerus,” antwoord die skaap, “en bekommer jou nie oor die veiligheid van my skuilplek nie; dit gaan met my net goed hier. En selfs as dinge verloop soos jy voorspel, is ek enige dag honderd maal eerder offerlam vir die gode as slagoffer en prooi van 'n wolf se honger maag, tande en kloue.”
Daar is eintlik nie eens sprake van 'n kraal nie, maar 'n stal – iets wat net in die koudste dele van die land aan ons bekend is. 'n Altaar op die werf het ook verval.
Selfs in die 1800’s het die outjies al gesukkel. Een het met die volgende vorendag gekom:
Met ‘n wolf op sy hakke het ‘n lam skuiling gaan soek in die tempel. Wolf het sy spoor gevolg en hom daar uit probeer lok met die woorde: “Jy beter toesien dat jy so gou as moontlik daar uitkom, die priester gaan jou gryp en op die altaar offer.” Waarop die lam op sy beurt van hom laat hoor: “Ek word honderd maal eerder ‘n offerlam in ‘n tempel as wat ek deur jou verskeur en verslind word.”
Vandaar ook die prentjie wat ek 'n ruk gelede by 'n ander fabel gebruik het.
In die Afrikaanse boeregemeenskap van sê maar die Kalahari in die omgewing van Van Zylsrus, kan dit seker so iets klink:
'n Skaap wat van die trop afgedwaal het sien 'n tierwolf raak en vlug na die plaaswerf waar die hek oop laat lê is omdat alles en almal in rep en roer is vir die jaarlikse kerkbazaar. Die ongedierte wil dit nie waag tot binne die werf nie, maar probeer om van anderkant die draad die skaap se vertroue te wen. “Sien jy nie die gewerskaf in die vleiskamer daar oorkant nie,” kom dit van die wolf. “Kom uit daar, nou! Netnou gryp hulle jou ook en beland jy kort voor lank op een van die kerk se kreunende bazaartafels. “Wees gerus,” antwoord die skaap, “en bekommer jou nie oor die veiligheid van my skuilplek nie; dit gaan met my net goed hier. En selfs as dinge verloop soos jy voorspel, is ek enige dag honderd maal eerder offerlam vir die kerkbazaar as slagoffer en prooi van jou honger maag, tande en kloue.”
Die illustrasie is deur Laura Gibbs toeganklik gemaak. (Die eerste een pas nie by die fabel nie, ek weet - dit het net vir my so oulik gelyk.)